Press Release - 01 September 2008

Midrand gereed vir oplewing

Midrand, gerieflik tussen Johannesburg en Pretoria geleë, maak gereed vir ‘n oplewing wanneer die eiendomsmark draai.

Zakes Myeza, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-franchise, sê Midrand gaan uitstekend presteer wanneer die mark herstel. Die gebied is gewild omdat dit sentraal geleë is en goeie infrastruktuur en ‘n wye verskeidenheid vermaaklikheid bied.

Eiendom in die gebied bied boonop geleenthede vir ‘n breë spektrum inkomstegroepe danksy voorraad in verskillende prysklasse. Gesinne wat byvoorbeeld uit die nabygeleë Klipfontein-township opgradeer teiken areas soos Vorna Valley waar pryse eerste kopers pas. Kopers in die duurder prysklasse het terselfdertyd ‘n wye keuse danksy verskeie gholflandgoedere en ander luukse eiendom.

“Midrand het dus iets vir ‘n ieder en ‘n elk en bied goeie waarde vir geld,” sê Myeza. “Dit is ‘n kosmopolitaanse node en die ligging is baie voordelig vir inwoners wat na Pretoria of Johannesburg pendel. En met die heersende brandstofpryse is ligging ‘n belangrike oorweging vir huiskopers.”

‘n Terminaal vir die Gautrein is ‘n verdere aanduiding van die gebied se toekomstige oplewing en sal ongetwyfeld verdere belegging lok. Sake-ondernemings sal die terminaal na verwagting teiken danksy die blootstelling en pendelgerief wat eie aan so ‘n node is.

Verdere stukrag gaan kom danksy die beplanningsafdeling van Johannesburg Stad se onlangse aankondiging dat residensiële sowel as handelsontwikkeling in ooreenstemming met die stad se voorstedelike ontwikkelingsraamwerk verder uitgebrei gaan word. Voorkeur sal aan ontwikkelings met gemengde benutting gegee word.

Myeza sê die deeltitelmark vertoon op die oomblik die beste. Eiendomme in dié segment bestaan hoofsaaklik uit een of twee slaapkamers en ‘n badkamer en haal pryse van tussen R400 000 en R1,1m.

Verkope van losstaande eiendom is nou stadiger, hoewel pryse nou al hoe aantrekliker raak onder beleggers. Sulke eiendom het tipies drie of meer slaapkamers en pryse wissel tussen R800 000 en R3m, afhangende van ligging en die ouderdom van die eiendom.

 

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT

VIR NADERE INLIGTING BEL

ZAKES MYEZA OP

011 312 6761 OF BESOEK

www.everitt.co.za

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net