Sewe grootste slaggate van private huisverkope
Dit klink straks na ‘n slim plan – veral in ‘n taai mark - om self jou huis te verkoop en die verkoopskommissie wat jy andersinds aan ‘n eiendomsagent sou moes betaal, in jou sak te steek maar daar is ‘n paar slaggate in dié metode van huisverkoop.
Dit is die mening van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat sê: “In ons ervaring is die meeste mense wat hul huise privaat wil verkoop eienaars wat weens geldelike probleme moet verkoop en hoop dat as hulle verkoopskommissie kan vryspring hulle nie ‘n bybetaling hoef te maak om hul huislening na afloop van die transaksie af te los nie.
“Ongelukkig trap hulle dikwels in een van vele moontlike strikke en beland in ‘n selfs groter geldelike verknorsing. Ons sien byna daagliks sulke gevalle en dink dit is belangrik dat mense bewus is van moontlike probleme en dat hulle die saak goed oordink voordat hulle besluit om sonder die dienste van ‘n professionele agent klaar te kom.”
Moontlike slaggate, sê hy, sluit die volgende in:
- Jy dra alle advertensie- en bemarkingskoste self, ongeag of jy daarin slaag om die huis te verkoop of nie. Dan moet jy boonop self bepaal watter advertensiemedia die mees doeltreffende gaan wees, en jou eie advertensies opstel, laat plaas en moniteer. Jy sal ook jou eie eiendom-te-koop advertensieborde moet laat maak en dit onderhewig aan jou plaaslike owerheid se regulasies oprig en weer verwyder. Laastens sal jy jou eie skoudae moet reël en aanbied en gereed staan om individuele besigtigings aan voornemende kopers te hanteer.
- Gebrek aan blootstelling. Die meeste private verkopers het nie die nodige kennis of middele om genoeg blootstelling aan genoeg voornemende kopers te bewerkstellig nie. Goeie eiendomsagente, aan die ander kant, het toegang tot bestaande databasisse van voornemende kopers, sowel as nasionale en internasionale advertensie- en bemarkingskanale.
- Gebrek aan markkennis en gebrek aan die vermoë om ‘n billike prys te bepaal. Dis baie moeilik om nie te min of te veel vir jou eiendom te vra as jy nie toegang het nie tot die jongste verkoopsrekords en statistiek, wat heersende neigings in jou buurt weerspieël. En kopers is deesdae so goed ingelig dat niemand ‘n aanbod gaan maak as jou prys te hoog is nie, terwyl jy geld gaan verloor as jou prys te laag is … en jy dus die oorspronklike rede waarom jy jou huis privaat wou verkoop, in die wiele ry.
- Gebrek aan ervaring/vaardigheid in onderhandeling. Die heersende mark bevoordeel beslis steeds kopers en die meeste kopers is gedugte onderhandelaars omdat hulle hul huiswerk en navorsing deeglik doen. Die meeste kopers se aanknopingspunt gaan waarskynlik wees dat aangesien jy privaat verkoop en nie kommissie betaal nie hulle, eerder as jy, op die besparing geregtig is. Aan die ander kant is die meeste verkopers nie ervare onderhandelaars nie en hulle kan dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, vind om onbetrokke genoeg te bly om ‘n ooreenkoms wat vir albei partye voordelig is, te bereik.
- Regs- en aanspreeklikheidskwessies.Buiten die vereiste om verkoopsooreenkomste en baie ander regsdokumente onder die knie te kry – of ‘n prokureur te betaal om dokumente na te gaan – kan private verkopers ook voor allerhande aanspreeklikheidskwessies te staan kom wanneer hulle regstreeks met ‘n koper onderhandel. Nuwe wette wat eiendomstransaksies reguleer is die afgelope paar jaar in werking gestel en wetgewing het ook meer ingewikkeld geword. Die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming is maar een van dié wette wat verkopers goed sal moet bestudeer om ‘n transaksie te kan beklink.
- Ongekwalifiseerde kopers. Daar is op die oomblik talle mense wat eiendom wil koop maar omdat banke verbruikers nou so streng keur, kwalifiseer minder as 50% van aansoekers vir huislenings. Dit is egter baie moeilik vir private verkopers om voornemende kopers se finansiële status te bepaal sodat hulle nie tyd mors om te onderhandel met mense wat nie vir ‘n lening kwealifiseer, nie genoeg kontant vir ‘n deposioto en oordragkoste het nie – of nog erger, mense wat hulle met ‘n slap riem wil vang om onregmatig verblyf in die eindom te bekom.
- Sekuriteit. As ‘n private verkoper is daar geen tussenganger tussen jou en voornemende kopers nie – en min beskerming teen skelms wat die geleentheid kan benut om toegang tot jou huis te kry en jou te besteel terwyl hulle ‘rondkyk’ of die eiendom en sekuriteitstelsels nagaan met die oog daarop om later op jou toe te slaan.
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com