Die eerste kwessie is die deposito. Dit is uiters belangrik, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, dat jy nie n deposito vir n erf of huis wat van die plan af verkoop word, moet betaal of enige ooreenkoms om so n eiendom te koop onderteken voordat jy nie die geloofsbriewe van die ontwikkelaar en/of bouer deeglik nagegaan het en seker gemaak het dat hulle gevestigde ondernemings met n bewese rekord van voltooide en suksesvolle ontwikkelings is nie.
Jy moet ook seker maak dat jou deposito slegs in die trustrekening van n prokureur of geregistreerde eiendomsagent betaal word en nie in die bankrekening van die ontwikkelaar of bouer nie. Daar was die afgelope paar jaar al gans te veel voorvalle waar skyn eiendomsagente, bouers se agente en konstruksiemaatskappye depositos vir voorgestelde ontwikkelings ingepalm en spoorloos verdwyn het.
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat die tweede faktor wat in gedagte gehou moet word, die feit is dat jy waarskynlik twee afsonderlike huislenings sal moet bekom een om vir die erf te betaal en die tweede vir die struktuur indien dit nie n deeltitelontwikkeling is nie.
Daar word dikwels na die tweede lening as n boulening verwys en dit word gebruik om die boukontrakteur in paaiemente te betaal namate bouwerk volgens die standaarde van die finansiële instelling voltooi word.
As koper sal jy egter elke paaiementbetaling moet goedkeur en die bank opdrag moet gee om te betaal. Dit bring mee dat jy n aansienlike mate van beheer het oor die manier waarop die werk voltooi word. En jy behoort dié geleentheid te benut deur die bouperseel gereeld te besoek en vakmanskap na te gaan sodat enige probleme dadelik uitgestryk kan word en beslis voordat die bouer die laaste paaiement ontvang.
Boonop, sê Everitt, moet jy nooit intrek of vir die sleutels teken nie voordat jy n laaste deeglike inspeksie gedoen het en gesorg het dat die bouer skriftelik onderneem om enige gebreke te herstel.
En laastens, as jy vir BTW geregistreer is of die eiendom in die naam van n BTW-geregistreerde onderneming koop, behoort jy jou rekenmeester te vra hoe om BTW-betalings vir die koop van die nuwe huis terug te eis.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Barry Davies
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com